PERSVERKLARING
Maandag, 28 November 2005
LUTZVILLE GRONDFORUM:
GRONDEISE KOMMISSIE DOEN NIE OOREENKOMS GESTAND NIE
In wat die landbou gemeenskap as 'n
waterskeiding landelike eis in die Wes-Kaap beskou, het die Lutzville
Grondforum vandeesweek hul ontsteltenis en teleurstelling uitgespreek
oor die nuutste optrede van di Wes-Kaapse Grondeise Kommissie deurdat
hulle nie hul onderneming aan die gemeenskap van Lutzville gestand
doen nie.
Die grondeise proses van die Ebenhaeser
gemeenskap in Lutzville was 'n lang en gekompliseerde proses, en
in Maart vanjaar het die staat 'n R100 miljoen grondeise skikking
met die Ebenhaeser gemeenskap onderteken - die grootste in die Wes-Kaap.
Die eis betrek 53 privaatbesit wingerdplase van meer as 1 500 hektaar.
Die partye het ooreengekom dat die
finale afloop van die grondeis afgehandel en geïmplementeer
moet word op 'n wyse wat die suksesvolle lang termyn sosiale en
ekonomiese ontwikkeling van die hele gemeenskap sal verseker.
In die nuutste verwikkelinge is staatswaardeerders
besig met evaluasies van landbougrond in die Lutzville omgewing,
desnietaanstaande ooreenkomste tussen die Grondeise Streekkommissie
en die Lutzville Grondforum ingevolge waarvan die Kommissie met
die Grondforum in gesprek sal tree voor hulle voortgaan met aksies
ten opsigte van die verkryging of ontwikkeling van grond in Lutzville.
Die Lutzville Grondforum het vandeesweek
hul teleurstelling uitgespreek in die optrede van die Grondeise
Kommissie nadat hulle staatswaardeerders aangestel het om slegs
ses plase in Lutzville te waardeer.
Die Lutzville Grondforum voorsitter,
mnr Bertie Conradie, sê "In die afloop van die proses,
is ons, die grondeienaars van Lutzville, toegewy tot 'n holistiese
en volhoubare plan wat die optimale ontwikkeling van al die mense
van Lutzville en Ebenhaeser sal verseker."
Conradie het gesê die Lutzville
Grondforum het nog altyd hul toewyding tot konsultasie, tot konstruktiewe
debat en besprekings bekend gemaak.
Die nuutste optrede van die Grondeise
Streekkommissaris, Me Beverley Jansen, is in teenstelling met die
ooreenkoms, waarin sy herhaaldelik grondeienaars verseker het dat
sy met hulle in gesprek sal tree voor hulle oorgaan tot enige verdere
optrede in die grondeise proses. Hierdie aksies is teenproduktief,
en strydig met die grondhervormingsproses, soos ooreengekom tussen
die staat en georganiseerde landbou.
Agri Wes-Kaap hoof uitvoerende bestuurder, Carl Opperman, het gesê
die proses van grondrestitusie is 'n geleentheid vir alle partye
om hul welwillendheid en toewyding te demonstreer om grondhervorming
in plek te sit sonder om kommersiële landbou te destabiliseer.
In ons strewe om dit te bereik, moet beide partye bereid wees om
saam te werk.
EINDE
Uitgereik deur: Agri Wes-Kaap
Namens: Lutzville Grondforum
Media enquiries: Hélène
Rossouw
082 771 8834
helene.rossouw@kingsley.co.za
|