GRONDWET VAN DIE LUTZVILLE GROND FORUM

 
1. NAAM 9. BESTUUR VAN DIE FORUM
2. DOEL 10. VERGADERINGS
3. GESAG 11. REGTE EN VOORREGTE VAN LEDE
4. AFFILIASIE 12. VERANDERING AAN DIE GRONDWET
5. FINANSIES 13. INTERPRETASIE
6. LIDMAATSKAP 14. ONTBINDING
7. BEEìNDIGING VAN LIDMAATSKAP 15. FINANSIëLE BYDRAE DEUR LED
8. STEM-PROSUDURES 16. GELDIGHEID
 
 

 

1. NAAM
  Die naam van die Forum is die LUTZVILLE GROND FORUM, hierna die FORUM genoem.
 
2. DOEL
2.1 Om die landbou-grondeienaars van Lutzville, wat geraak word deur grondeis soos gepubliseer in Staatskoerant nommer: 17783 van 402 1997
  Te verenig in ‘n enkele FORUM ten einde as ‘n enkele spreekbuis met die Kommissie op die Herstel van Grondregte te onderhandel oor die eis en idees en opinies saam te snoer met die doel om die ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskap wat afhanklik is van kommersiële boerdery-aktiwiteite (hierna genoem die GEMEENSKAP) te bevorder.
2.2 Met inagneming van die bevoegdhede van gesag van die FORUM, om saam te werk met ander belanghebbende
  partye om alles moontlik te doen om ‘n verantwoordelike, gesonde en stabiele GEMEENSKAP te bevorder.
2.3 Om die besigheids- en ekonomiese vooruitgang van die GEMEENSKAP deur middel van “Land Care” programme
  te bevorder.
2.4 Om die nakoming van die verpligtinge en beskerming van die regte van grondeienaars in terme van die Wet op
  die Herstel van Grondregte no. 22 of 1994 te bevorder.
2.5 Om te strewe na die bewaring van die natuurlike omgewing.
 
3. GESAG
3.1 Ten einde bogemelde doelwitte te kan bereik, tree die FORUM op as ‘n regspersoon en het dit die bevoegdheid
 

om soos volg op te tree om die doelwitte te bereik:

3.1.1 Om roerende of onroerende eiendom te besit, hetsy of dit gekoop of op ‘n ander wyse bekom is en om
  sodanige eiendom te verkoop, te huur of te verhuur en of dit met ‘n verband te beswaar of dit aan te bide as sekuriteit of dit te vervreem en om ander besigheidsregte te gee of ontvang en in die algemeen op ‘n wettige wyse te handel daarmee;
3.1.2 Om fondse of gelde, wat dit hou teen gepaste sekuriteit, te belê op sodanige voorwaardes as wat van tyd tot
  tyd vasgestel mag word;
3.1.3 om geld te leen of ontvang, om ‘n lening van enige aard aan te gaan en sekuriteit te verskaf waar dit vereis
  mag word;
3.1.4 Om ‘n bankrekening te open waaruit onttrekkings gedoen kan word en om aansoek te doen vir oortrokke
  fasiliteite;
3.1.5

Om waarborg te gee of borg te staan waar nodig vir enige persoon of regspersoon en om borgaktes te teken;

3.1.6 Om regsgedinge aanhanging te maak of aksies te verdedig en toe te stem tot arbitrasie of ondersoeke en om
  die nodige regsgeleerdes vir die doel aan te stel en dienooreenkomstig te vergoed;
3.1.7 Om amptenare aan te stel om die werk wat met die doelwitte van die FORUM verband hou en om hulle
  salarisse te betaal en ander verpligtinge teenoor hulle na te kom;
3.1.8

Om ampsdraers, amptenare en werknemers te vrywaar teen enige skade wat mag voortspruit uit die nakoming

  van hulle verpligtinge;
3.1.9

Waar nodig, om voorsiening te maak vir lewensversekering vir ampsdraers, amptenare en werknemers;

3.1.10 Om enige aksies wat verband hou met die bevordering van bogenoemde doelwitte, geldelik of andersins te
  ondersteun;
3.1.11 Om geskenke en donasies te aanvaar;
3.1.12 Om die lidmaatskapfooie van die FORUM te bepaal;
3.1.13 Om alles wat nodig is te doen en die nodige maatreëls te tref om die implementering van bogenoemde
  doelwitte te verseker;
3.1.14 Om besigheids transaksies in enige amptelike taal te doen na goeddunke deur die FORUM.
3.1.15 Om te verseker dat party-politiek nie in die FORUM bedryf word nie.
 
3.2 Wanneer die FORUM nie in sitting is nie, sal die Bestuur of Dagbestuur al die magte soos uiteengesit in die
  Grondwet uitoefen.
 
4. AFFILIASIE
  Ten einde die bovermelde doelwitte te bereik, kan die FORUM:
4.1 affilieer met organisasies wat soortgelyke doelwitte het;
4.2

lidmaatskap van die FORUM uitbrei na organisasies met soortgelyke doelwitte.

 
5. FINANSIES
5.1 Die finansiële jaar van die FORUM loop van 1 Julie tot en met 30 Junie van elke jaar;
5.2
Die FORUM moet ‘n bankrekening in sy eie naam open en alle gelde wat ontvang word onmiddellik daarin
  betaal en mag tjeks uitmaak vir betaling uit daardie rekening.
 
6. LIDMAATSKAP
6.1 Lidmaatskap van die FORUM is oop vir enige grondeienaar wat geaffekteer word deur die geregistreerde grondeis,afgekondig in terme van Staatskoerant nommer 17783 van 402 1997
  in terme van die Wet op die Herstel van Grondregte, no.22 of 1994 soos gewysig (hierna “Die Wet” genoem) , onderhewig aan klousule 4.2 hierbo en met dien verstande dat die organisasie se lidmaatskap ten volle opbetaal is;
6.2 Alle aansoeke vir lidmaatskap moet op die voorgeskrewe vorm gedoen word. Lidmaatskapsfooie is vooruit
  betaalbaar voor of op die 7 e Julie van elke jaar.
6.3 Enige persoon wat aansoek doen om lidmaatskap en aanvaar word stem hiermee in dat dit in alle opsigte sal
  hou by die reëls van die FORUM.
6.4

Lidmaatskapfooie vir die daaropvolgende jaar word vasgestel by die laaste vergadering van die finansiële jaar.

 
7. BEEìNDIGING VAN LIDMAATSKAP
  Die FORUM is verplig om die lidmaatskap van enige lid te beeìndig indien daardie lid versuim om sy finansiële verpligtinge teenoor die FROUM na te kom of weier om die reëls en verpligtinge ten aansien van lidmaatskap na te kom.
 
8. ALGEMENE REGULASIES TEN AANSIEN VAN STEM-PRODUDURES
8.1 OORDRAG VAN STEMREG
  Stemreg kan nie oorgedra word deur ‘n volmag of op enige ander wyse nie.
8.2 NOMINASIES
  Nominasies vir die verkiesing van bestuur van sewe lede sal plaasvind by wyse vangeskrewe stembriewe van die behoorlik afgevaardigde lede. ‘n Lid van die uitvoerende bestuur moet deur minstens twee afgevaardigdes benoem word. Bestuur verkies Dagbestuur wat bestaan uit voorsitter, sekretaris en 2 addisionele lede.
8.3 VERKIESING VAN AMPSDRAERS
  Verkiesings vir die vulling van leemtes van die poste genoem in klousule 8.2 hierbo, sal plaasvind by wyse van stembriewe op die basis van die eliminasie van candidate. Indien daar meer as twee kanidate genomineer word, sal die kandidaat met die minste stemme uitgeskakel word gedurende die volgende stem-rondte. Indien ‘n dooipunt ontstaan, sal die stemprosedure herhaal word totdat ‘n finale uitslag bereik word.
8.4 STEM PROSEDURES
  Elke lid van die FORUM kan slegs drie afgevaardigdes, met een stem elk by vergaderings van die FORUM aanwys. Die Voorsitter sal ‘n gewone sowel as die beslissende stem hê.
8.5 Stemming, behalwe in gevalle soos uiteengesit in klousules 8.2 en 8.3, vind plaas by wyse van die opsteek van
  hande, behalwe in die geval waar die meerderheid van lede anders besluit.
 
9. BESTUUR VAN DIE FORUM
9.1 Die bestuur van die FORUM word beheer deur die Bestuur. Die Bestuur word jaarliks aangewys by die Jaarlikse
  Algemene Vergadering en wel by wyse van ‘n meerderheidstem van candidate soos hierbo bepaal en bestaan uit die volgende persone:
  Die Voorsitter
Die Sekretaris
Vyf addisionele lede
9.2 Die Bestuur mag enige van hul magte en bevoegdhede delegeer aan die Dagbestuur.
9.3 ‘n Kworum by ‘n bestuursvergadering bestaan uit minstens drie lede van die Bestuur.
9.4 Die Bestuur het die bevoegdheid om al die verpligtinge soos uiteengesit in klousule 3 hierbo, ten behoewe van
  die FORUM uit te oefen. Die Bestuur is verder gemagtig om te delegeer en om alles in hul mag te doen om te verseker dat die doelwitte in klousule 2 uitgevoer word.
9.5 Die Bestuur is verplig om minstens 4 keer per jaar byeen te kom.
 
10. VERGADERINGS
10.1

‘n Behoorlik byeengeroepte en geskeduleerde vergadering is die hoogste gesag van die FORUM

10.2

Lede-vergaderings moet minstens vier maal per jaar gehou word op ‘n tyd, plek en datum soos vasgestel deur

  die FORUM.
10.3

Die Sekretaris moet tydig skriftelik kennis gee van die voorgenome vergadering, ten minste veertien (14) dae

  voor die vergadering.
10.4 ‘n Kworum van ‘n algemene vergadering is minstens drie (3) persone of een vyfde van die lede wie se
  lidmaatskapfooie betaal is, wat ook al die grootste is. Waar geen kworum bestaan nie, sal die afgevaardigdes wat teenwoordig is, indien die meerderheid so besluit, ‘n opvolg-vergadering reel, nie korter as veertien (14) of langer as derting (30) dae na die oorspronklike datum nie. Daar moet behoorlik kennis gegee word aan alle afgevaardigdes en hulle moet ingelik word dat die afgevaardigdes teenwoordig ‘n kworum sal vorm. Indien kennis behoorlik gegee is, sal ‘n afgevaardigde wat nie teenwoordig is nie, nie kan beweer dat hy nie kennis van die vergadering gekry het nie.
10.5 Die Voorsitter, en in sy afwesigheid, die Sekretaris, moet alle algemene en bestuursvergaderings as voorsitter
  bywoon. Indien beide afwesig is, moet die vergadering sy eie voorsitter kies.
10.6 Daar moet jaarliks gedurende Mei of Junie ‘n Jaarlikse Algemene Vergadering deur die FORUM saamgeroep
  word om die ampsdraers vir die volgende jaar te kies.
 
11. REGTE EN VOORREGTE VAN LEDE
  Bo en behalwe die vereiste dat ‘n lid sy lidmaatskap-fooie moet betaal en moet voldoen aan die Grondwet van
  die FORUM, het afgevaardigdes ook die volgende regte en verpligtinge:
11.1 om die reëls van die FORUM na te kom;
11.2 om die belange van die FORUM te beskerm en sy doelwitte te bevorder;
11.3

om sake by vergaderings voor te lê, om deel te neem aan besprekings, om voorstelle te maak, te sekondeer

  en te bespreek;
11.4

Om homself beskikbaar te stel vir die bestuur of enige ander komitee, om ‘n afgevaardigde te wees of te stem

  vir enige voorgestelde lid;
11.5

Enige lid mag bedank deur die Sekretaris skriftelik in kennis te stel van sy voorneme om dit te doen;

11.6 Enige lid en/of afgevaardigde mag geskors word deur die Bestuur indien hy skuldig bevind word aan die
  oortreding van die reëls van die FORUM.
11.7 Geen lid sal individueel met die Kommissie op die Herstel van Grondregte of sy verteenwoordigers of
  werknemers onderhandel nie.
 
12. VERANDERING AAN DIE GRONDWET
12.1 Die eerste Grondwet van die FORUM moet deur ‘n gewone meerderheid van lede by die eerste Algemene
  Jaarvergadering goedgekeur word;
12.2 Die Grondwet mag slegs gewysig word indien daar aan die volgende vereistes voldoen word:
12.2.1 Voor die voorgenome wysiging moet ‘n voorstel dien voor die algemene vergadering en daarna moet dit vervat
  word in die kennisgewing van die volgende vergadering (tweede vergadering);
12.2.2 Ten minste twee-derdes van die afgevaardigdes wat teenwoordig is by die tweede vergadering, moet ten
  gunste van sodanige wysiging wees;
12.3 Byvoegings aan die Grondwet moet op dieselfde wyse as wat in
  klousule 13.2 hierbo hanteer word.
 
13. INTERPRETASIE
  Die algemene vergadering besluit oor alle sake waarvoor daar nie spesifiek in die Grondwet voorsiening
  gemaak word nie, asook oor die interpretasie van alle reëls.
 
14. ONTBINDING
14.1 Die FORUM kan ontbind word by wyse van ‘n besluit geneem deur ten minste twee-derdes van die totale lede
  van die FORUM verteenwoordig deur die afgevaardigdes wat persoonlik teenwoordig is by ‘n algemene vergadering, wat spesifiek vir die doel byeengeroep is.
14.2 In die geval van ontbinding, moet die FORUM se skulde eers afgelos word waarna enige ander verpligtinge
  nagekom word. Enige oorblywende fondse sal dan onder die trusteeskap van prokureurs De Klerk en Van Gend van Kaapstad geplaas word totdat ‘n nuwe organisasie met dieselfde doelwitte en oogmerke tot stand kom.
 
15. FINANSIëLE BYDRAE DEUR LEDE
  In die geval waar die FORUM ‘n besluit neem dat verdere fondse benodig word, sal die aanspreeklikheid van lede beperk wees tot die bedrag wat reeds per lid bygedra is, wlke bedrag bereken is op die basis van die lid se ingelyste waterkwota of ‘n bedrag van R500.00, welke bedrag die hoogste is.
 
16. GELDIGHEID
  Hierdie Grondwet is aanvaar ooreenkomstig die bepalings van klousule 12 deur die algemene vergadering gehou op: 20 Oktober 2005.
 

 

 

 

Kontak die Lutzville Grond Forum Lede by lutzgrond@kingsley.co.za

 

tuisblad | grondwet | vergadering

© Lutzville Grond Forum
Webmaster: Melanie de Witt